Wyoming – Yellowstone Nasionale Park – Winter

VSA

Yellowstone Nasionale Park was die heel eerste gebied in die geskiedenis van die mensdom om as 'n nasionale park geproklameer te word - in 1872.

Dié nasionale park is massief, en beslaan 'n grondoppervlak van byna 9 000 vierkante kilometer. In die winter is daar net een manier om jou weg deur die park te vind - in die maag van 'n snowcoach.

Dit was 'n ondervinding duisend om in een van dié sneeutrokkies, met nege vreeslike vriendelike Amerikaners as geselskap, my weg deur die sneeubedekte landskap te vind. Met tye moes ek myself knyp, net om seker te maak dat ek my nog op planeet Aarde bevind.

Yellowstone is geleë rég bo-op die Yellowstone Caldera - die grootste supervulkaan op die Noord-Amerikaanse kontinent.

Water syfer deur die grond na benede tot op 'n punt waar dit só verwarm word deur die magma van die vulkaan, dat dit op die oppervlak uitbars as 'n geyser ("ghaizer", nie "ghiezer" nie). Daar is 500 sulke spuitbronne in die park, waarvan Old Faithful die grootste en bekendste een is. Dié geyser spoeg nagenoeg elke 90 minute 'n dik straal stoom en kookwater uit, en geen besoek aan Yellowstone is voltooi voordat jy nie eers een van dié uitbarstings aanskou het nie.

Old Faithful bars uit.

Weens die spesifieke chemikalieë wat in die water voorkom, spog die stroompies en poele in Yellowstone met die mees asemrowende kleure.

Behalwe vir sy geotermiese kenmerke, is die park ook bekend vir sy natuurlewe, en bied 'n tuiste aan honderde plant- en dierspesies, insluitend coyotes en takbokke. My gunstelingdiere in Yellowstone, en daar is duisende van hulle, bly egter steeds die bisonne.

Die Grand Prismatic Spring - een van die groot juwele in die Yellowstone-kroon. Hierdie kleurvolle poel het 'n deursnee van 61 meter, en die water kook byna teen 70 grade Celsius - dié dat dit omtrent altyd deur 'n miskolom bedek word. Verál in die winter.

Brand logo
Volg my, maar moenie my ágtervolg nie.