Wyoming – Yellowstone Nasionale Park – Somer

VSA

In die vorige hoofstuk, oor my roadtrip, het ek 'n paar foto's geplaas van my dag by Yellowstone in die winter: www.fanieosoppiejas.com/posts/yellowstone-winter/. Ses maande later, in die somer, het die landskap nie net heeltemal anders gelyk nie, my besoek aan die park kon ook nie meer anders verloop het nie. Dié keer het ek my twee gunstelingreisgenote saamgesleep. Ons het 'n huurkar gehad en kon na hartelus op enige pad in die park ry - ons was nie beperk tot wat vir 'n sneeutrokkie aanvaarbaar sou wees, soos toe ek 'n paar maande tevore daar was nie. Ons het verder drie volle dae gehad om die park te verken, nie net een nie. Die park is enorm - 9 000 vierkante kilometer - maar ons het ons beste gegee om soveel moontlik daarvan te sien.

Wanneer jy by die hek betaal, kry jy 'n kaart van die park, met al die mees beroemde besienswaardighede daarop aangedui. Vervolgens moet jy 'n roete probeer uitwerk om by soveel moontlik van daardie hoogtepunte op die kaart uit te kom, in ag genome die tyd tot jou beskikking. Een van die grootste hoogtepunte, in die Lower Geyser Basin, was die Grand Prismatic Spring - een van die mooiste juwele in die Yellowstone-kroon. Hierdie kleurvolle poel het 'n deursnee van 61 meter, en die water kook byna teen 70 grade Celsius - dié dat dit omtrent altyd deur 'n miskolom bedek word.

Yellowstone Nasionale Park was die heel eerste gebied in die geskiedenis van die mensdom om as 'n nasionale park geproklameer te word - in 1872.

Yellowstone is geleë rég bo-op die Yellowstone Caldera - die grootste supervulkaan op die Noord-Amerikaanse kontinent.

Water syfer deur die grond na benede tot op 'n punt waar dit só verwarm word deur die magma van die vulkaan, dat dit op die oppervlak uitbars as 'n geyser ("ghaizer", nie "ghiezer" nie). Daar is nagenoeg 500 sulke spuitbronne in die park.

By elke besienswaardigheid wat op die kaart aangedui word, is daar 'n loopplank wat jou tot náby aan die aksie neem. Dis dus nie 'n freestyle nie. Alles is goed georden.

Weens die spesifieke chemikalieë wat in die water voorkom, spog die stroompies en poele in Yellowstone met die mees asemrowende kleure.

Geen besoek aan Yellowstone is voltooi voordat jy nie eers 'n uitbarsting van een van die spuitfonteine aanskou het nie.

Die sand van hierdie strand langs 'n meer in Yellowstone is swart. Dis só, want dis vulkaansand.

Behalwe vir sy geotermiese kenmerke, is die park ook bekend vir sy natuurlewe, en bied 'n tuiste aan honderde plant- en dierspesies, insluitend coyotes en takbokke. My gunstelingdiere in Yellowstone, en daar is duisende van hulle, bly egter steeds die bisonne.

Brand logo
Volg my, maar moenie my ágtervolg nie.