Wonsan – Noord-Korea se Pampoenboere

Wat my opgeval het, was die groot aantal rooi driehoekies wat op verskeie plekke op die plaveisel reg oor die perseel aangebring is. Na aanleiding van my navraag oor dié verskynsel, is ek ingelig dat dié driehoeke die plekke aandui waar Die Leiers gestaan en poseer het toe hulle tydens hul besoeke aan die Landbou-universiteit gefotografeer is. Maar bo en behalwe die rooi driehoekies, was daar ook groen driehoekies op talle plekke op die plaveisel aangebring. Dié driehoekies, só is ek ingelig, het op hul beurt dié plekke aangedui waar Die Leiers vir foto's geposeer het, maar die foto's uiteindelik nié geneem is nie. Derhalwe word nie net die “Ek wou, en ek het”-oomblikke herdenk nie, maar sommer die “Ek wou, maar ek kon nie”-oomblikke ook.

Wanneer een van Die Leiers ‘n welwillendheidsbesoek iewers aflê, word ‘n rooi kennisgewingbordjie by dié plek aangebring om toekomstige generasies daaraan te herinner dat goddellike wysheid met ‘n vorige geleentheid daar uitgestrooi is. Dis byvoorbeeld ‘n groot eer om ‘n woonstel aangebied te word in ‘n blok waar só ‘n rooi kennisgewing bo die ingang pryk. By die Landbou-universiteit was daar tientalle soortgelyke rooi kennisgewings aangebring. Vir Die Leiers was landbou-ontwikkeling ‘n ooglopende prioriteit, en gevolglik het hulle die plek waar die kosprodusente van die toekoms onderrig word mildelik met hulle teenwoordigheid vergas.

Saam met 'n groep ingeskrewe studente van die Landbou-universiteit. Links voor my sit Nanthini, wie se vernuftige Koreaans baie dinge veel duideliker gemaak het. Die meisie in die swart hemp is Giulia, die Italianer wat die soek-vir-Kim-kompetisie gewen het, en die bebaarde ou is Jeremy Brevet, my Franse kamermaat.