Verruklike Vlaandere

Indien jy hierdie lees nadat jy die QR-kode op bladsy 49 van my boek skandeer het ... baie dankie! Dankie dat jy my boek gekoop het, dankie dat jy my stories lees, en dankie dat jy werk gemaak het van daai QR-kode. Ek het geen byskrifte aangebring by die foto's in my boek nie. Ek het gevoel dat dit skade sou berokken aan die ambiejaans daarvan, en ek het in elk geval só baie te sê oor sommige van die foto's, dat my byskrifte vér oor die rante sou rol. In plaas van byskrifte het ek besluit om eerder dié webblad te ontwikkel, en om die foto's én byskrifte op dié medium te publiseer. Só klap ek twee vlieë tegelykertyd dood. Sommige van die foto's in sommige van die collages in die boek is nogal klein, maar hier verskyn elke boekfoto (asook 'n klomp addisionele foto's) lewensgroot. Daarbenewens kan ek ook na hartelus uitbrei oor die konteks van sommige van die foto's, én ek kan boonop stertjies by die stories in die boek las, waar nodig. Wen-wen-wen. Indien jy die teks in die boek gelees het, sal die meeste van die foto's in elk geval sin maak, maar ek wou hier en daar tóg verder uitbrei oor sommiges. Sommige van die QR-kodes herlei jou na albums toe waar ek báie aangelas het, en sommiges bevat weer minder addisionele inligting. Dié met die blou raampies herlei jou na foto-gallerye toe, en dié met die rooi raampies na video's toe. Sien dit as 'n lucky packet! Maar hoe dit ook al sy, nogmaals dankie vir jou ondersteuning. Lekker lees, en lekker kyk! Hierdie foto is geneem op die Markplein, in die hartjie van Brugge. Die beeldhouwerk is van twee Belgiese patriotte - Jan Breydel en Pieter de Conink - wat in die vroeë 1300's bekendheid verwerf het vir hulle teenstand teen die Franse. Dié beeld is in 1887 onthul deur die legendaries Belgiese koning homself - Leopold II.

Brugge, 'n skilderagtige stad in die noordweste van België, spog met 'n ryke geskiedenis wat terugdateer na die Romeinse era, toe dit as 'n belangrike handelsentrum gedien het. Gedurende die Middeleeue het Brugge ‘n bloeiperiode beleef, en het veral bekendheid verwerf vir sy kant en sy kuns. Dinge het egter in die laat 15de eeu die kreeftegang begin gaan. Slik in die waterweë het toegang tot die see belemmer, wat ‘n gróót krisis vir ‘n handelsentrum is. In die 19de eeu was daar egter ‘n Brugse oplewing, aangevoor deur hernieude belangstelling in die historiese argitektuur en die kanale, wat gelei het tot sy hedendaagse status as 'n UNESCO-wêrelderfenisgebied en 'n uiters gewilde toeristebestemming.

Die Kloktoring van Brugge, op die Markplein, is 'n simbool van die stad se ryk geskiedenis en argitektoniese grootsheid. Dis in die 13de eeu gebou en is 83 meter hoog. Dit bied ‘n panoramiese uitsig oor Brugge aan diegene wat bereid is om sy 366 trappe uit te klim. Die Kloktoring is 'n bewys van Brugge se Middeleeuse status, en is ‘n móét vir enige besoeker aan hierdie bekoorlike Belgiese stad.

Hierdie foto is in Brussel geneem. Hergé, die outeur van die Tin Tin-strokiesprentboeke, was 'n Belg, en in daai deel van die wêreld is hy 'n absolute volksheld. Soos 'n kruising tussen D.J. Opperman, Breyten Breytenbach en Naas Botha. Ek het met ons eerste besoek aan België 'n paar Tin Tin-boeke opgeraap, en al was ek toe reeds byna 15 jaar ouer as die teikenmark van dié boeke, het dié nuuskierige, wêreldreisiger van 'n joernalis spoedig een van my fiktiewe helde geword.