Wyoming – Torrington

VSA

Onderweg van Denver na die Rocky-gebergtes is ek deur 'n sneeustorm oorval. Om te verhoed dat ek in die Rockies gestrand sou wees, het ek besluit om verby te hou in die algemene rigting van my volgende bestemming. Ná sewe vermoeiende ure op die pad het ek skaars 300 km afgelê - deels te wyte daaraan dat die sneeu 'n bestuurdery bemoeilik het, en deels omrede ek elke kort-kort gestop het om foto's te neem van die sprokieswêreld waardeur ek omring is. Hierdie foto is een van my gunstelinge. Ek het dit met een hand geneem - op my foon, sommer deur die voorruit, in die verbygaan.

Ek kon die toeval dat my huurkar met 'n Wyoming-nommerplaat gespog het, terwyl ek terselfdertyd deur Wyoming gery het, eenvoudig nie ongedokumenteer laat verbygaan nie.

Sekerlik een van die lekkerste aspekte van reis - om jou op 'n plek te bevind waar jy nog nooit was nie, en heel waarskynlik ook nooit weer sal wees nie. Van hierdie drie plekke het ek nog nooit gehoor nie, maar dit kon netsowel die name van drie sibbe gewees het. Casper, Sidney en hulle sussie Laramie.

Welkom in Amerika! Wil jy dalk 'n geweer aanskaf, sommer so terwyl jy jou kar vol petrol maak?

Moet nooit met jou vrou se keuses spot nie - jy was een van hulle!

Bale hooi, of lusern, of so iets. Ek weet nie. Maar wat ek wél weet, is dat 'n sneeubedekking enige landskap omtower in 'n foto-geleentheid.

As ek sou wonder waar ek my bevind het, dan het hierdie foto dit onomstootlik bevestig - in die Amerikaanse midwest, natuurlik!

Brand logo
Volg my, maar moenie my ágtervolg nie.