Toet-toet-toet! Die trein na Pjongjangfontein

Ek kon dit amper nie glo nie, maar in Pjongjang, waar verreweg die meeste mense ‘n uiters karige bestaan voer, krioel daar ‘n treinnetwerk ondergronds. Ons is natuurlik nie toegelaat om dit op ons eie te verken nie, maar ons is wel deur ons gidse daarheen geneem - vir ‘n besigtigingstoer wat ‘n volle ses stoppe geduur het.

Onderweg na ons besigtigingstoer het Hyang Sun ons met die trots wat so kenmerkend is van al die Noord-Koreane met wie ons te doen gekry het, ingelig dat bouwerk aan dié netwerk in 1967 ‘n aanvang geneem het, en dat dit, danksy die groot wysheid van Die Leiers, in 1989 voltooi is. En vandag, nadat daar vir 22 jaar daaraan gewerskaf is, bestaan dié netwerk uit twee lyne, en sewentien stasies – ‘n fenomenale gemiddeld van 1.3 stasies per jaar.

Die mees onvergeetlike aspek van ons besoek aan oom Kim se moltreine was nie die rit self nie, maar dít wat ons op die stasies se platforms aangetref het. Teen elke muur was ‘n veelkleurige mosaïek aangebring. Die temas was voorspelbaar – boere wat met ‘n huppel in hul stap die oes van die land af bring, vriendelike soldate wat onder slagspreukbaniere marsjeer, die intelligentsia wat met blye verwagtinge die toekoms in staar, en natuurlik Die Leiers in al hulle gevarieerde glorie. En al hét die boodskap ‘n effense wrang smaak in my mond gelos, moet ek tóg erken dat dié kunswerke baie indrukwekkend was. Let op die opmerklike teenstelling tussen die lewenslus van die mense in die mosaiëk, en dié van die mens in die voorgrond van dié foto. Sy het seker maar net 'n af-dag beleef.

Wat óók indrukwekkend was, was die subtiele propaganda, in die vorm van koerantberigte, waaraan die pendelaars op die platforms neffens die treine blootgestel word. Daar bestaan natuurlik geen persvryheid in Noord-Korea nie, en die meeste mense sal in elk geval nie hulle karige inkomste op koerante vermors nie, maar dáárvoor het Die Leiers ook ‘n plan beraam. Op elke platform, agter glaspanele, is hele bladsye van die dag se koerant (daar is net een) aangebring. Só verseker die regime dat álmal op hoogte bly van al Noord-Korea se uitmuntende prestasies, sowel as van al haar vyande wat net wag om toe te slaan …

Soos wat dit die geval met ondergrondse treinnetwerke wêreldwyd is, het elke stop sy kwota treinverlaters, sowel as nuwelingpendelaars opgelewer. Dit was baie amusant om die uitdrukkings op die gesigte van dié nuwelinge te sien, wanneer hulle hulle onverwags in ons groepie groot-oog-lang-neus-mense vasgeloop het. Een ouerige dame het skoon oor haar eie voete geval, en meer as een voornemende pendelaar het bloot net omgedraai en weer uitgestap wanneer die besef tot hulle deurgedring het dat hulle ‘n trok met ons sou moes deel.