Texas – Dallas – Southfork Ranch

VSA

Die ingang na die beroemdste ranch in die geskiedenis van die kleinskerm - Southfork Ranch.

In die 1980's was Suid-Afrikaners (en die res van die beskaafde wêreld) vasgenael voor die kassie wanneer dit tyd was vir die Ewings van Southfork Ranch se intriges.

Toe ek en my gevolg ons dus in Dallas bevind, was dit die ideale geleentheid om daardie 1980's-herinneringe te gaan afstof.

Die tweede beroemdste wit huis in Amerika.

In ruil vir $15 is ons toegang gegee tot 'n museum op die perseel - die heligdom van veelsoortige Dallasverwante parafernalia.

TV-skerms waarop ou episodes uitgesaai is, geraamde koerant- en tydskrifuitknipsels, horingoue bemarkingsplakkate, cowboyhoede in verskeie skakerings, dié was alles daar.

Die mees insiggewende inligtingsbron was egter die Ewing-stamboom wat teen een van die mure aangebring is, want só kon ons maklik uitpluis wie aan wie verwant was, wie saam met wie geslaap het en wie vir wie geskiet het.

Hier's hulle nou - beelde uit my kinderjare! Jock en Miss Ellie, J.R. en Sue Ellen, Bobby en Pamela. Die hele lot!

Larry Hagman, wat van 1978-1991 die rol van die sluwe J.R. Ewing vertolk het, is in 2012 in die ouderdom van 81 jaar oorlede.

J.R., die man wat almal so lief was om te haat, is tydens die laaste episode van die 1980-reeks geskiet. Dié "whodunit" het die wêreld behóórlik laat gons. As X in daai dae bestaan het, sou #whoshotjr? ongetwyfeld vir maande lank getrend het. J.R. was 'n meer gehate man as selfs André Stander, die bankrower, en derhalwe het dié sluipmoordpoging die tonge lós gehad. In daai dae was daar nie naastenby die (amperse oor)aanbod van musiek, flieks of TV-reekse van vandag nie. Mense moes amper 'n jaar wag om uit te vind wie die sluipmoordenaar was. En hier, voor my oë in die museumpie by Southfork Ranch, lê die plastiekfopgeweer wat vir die hele gedoente verantwoordelik was. Sonderling. In die Smithsonian National Air and Space Museum in Washington DC het ek al my oë gelê op die juiste vliegmasjien waarmee die Wright-broers die heel eerste vlug uitgevoer het. Maar selfs dít kan nie kers vashou by dié fopgeweer nie. I mean, come on! Dis die regte-égte fopgeweer wat vir J.R. geskiet het!

Die hoofhuis is 'n entjie weg van die museum, maar moenie vrees nie - jou $15-toegangskaartjie sluit ook 'n rit op dié trokkie na die hoofhuis toe in (maar nie weer terug nie).

In die hoofhuis is ons begroet deur ons gids - die uiters bekwame, uiters spraaksame Joan. Dié het ons deur die vertrekke in die huis begelei, en haar aansienlike kennis oor die plek met ons gedeel.

Die portrette teen die mure wys wie die beroemde voormalige inwoners van dié kamer was.

Hierdie keurig (!) versierde slaapkamer was eens geoormerk vir skote van J.R. en Sue Ellen. Verál skote van J.R. en Sue Ellen in die bed.

J.R. is geskiet tydens die laaste minute van die laaste episode van die 1980-reeks. Met die openingstoneel van die volgende reeks, het kykers hierdie "moordtoneel" gesien, wat hulle natuurlik laat dink het dat J.R. dit nie gemaak het nie. Maar hy het! Waarna hy nog báie mense in Dallas se lewens hel gemaak het.

Die ontbyttafel op die voorstoep - dieselfde een waar die matriargale Miss Ellie 'n ogie oor haar skinderende kroos gehou het.

Die swembad waarin Kistin Shepherd verdrink het. Sy was Sue Ellen se suster, en ook die skuldige wat vir J.R. geskiet het.

Brand logo
Volg my, maar moenie my ágtervolg nie.