Tennessee – Nashville

VSA

Nashville, dikwels genoem "Music City", is 'n polsende metropool in die hartjie van Tennessee. Dit beskik oor ‘n unieke mengsel van tradisie en moderniteit, maar niks hiervan kan kers vashou by dít waarvoor Nashville wêreldberoemd is nie - sy ryk musikale erfenis, verál countrymusiek.

Nashville het nie sy bynaam om dowe neute gekry nie. Musiek BRUIS deur die are van dié stad, en tekens daarvan kan op elke hoek en draai bespeur word. Soos hierdie - die Johnny Cash museum.

Te oordeel aan dié ou se uitrusting sou mens dink dis Independece Day, of so iets. Maar nee, dís maar net hoe Nashvillers lyk!

Nasville is vervuil van honky-tonks. Hierdie koddige naam word gegee aan plekke wat lewendige musiek aanbied - van 11:00 soggens tot 3:00 die volgende oggend!

Al loop jy in die midel van die dag in Nashville rond, kom die klanke van lewendige musiek uit honky-tonks soos dié een na jou toe aangesweef.

Die ikoniese Decca Records in Nashville, waar Patsy Cline, Jerry Lee Lewis en vele ander diknekke van countrymusiek opnames gemaak het. Decca Records is ook bekend daarvoor dat Dick Rowe, een van hulle agente in die Londen-tak, sy neus in 1961 vir The Beatles opgetrek het. Hoe spyt moes daai man nie vir die res van sy lewe gewees het nie.

Die RCA-ateljee, Studio B, waar onder andere Elvis, Dolly Parton, Roy Orbison, The Everley Brothers en Jim Reeves plate opgeneem het.

In hierdie vertrek het Elvis sy treffer Love me tender opgeneem. Om atmosfeer te skep, het Elvis daarop aangedring dat die hele vertrek in donkerte gehul moes word. Aan die einde van opname het Elvis beweeg en in die donker aan die mikrofoon gestamp. Maar omdat die stemopname perfek was, het die vervaardigers besluit om alles net so te behou. Met dié kan mens vandag nog 'n dowwe plofgeluid hoor wanneer Love me tender se laaste note wegsterf.

Hierdie is 'n mixing desk. In Afrikaans mag dit dalk 'n klankvermengingstafel wees. Ek weet nie. Maar wat ek wél weet, is dat Dolly Parton, met die gebruik van dié ding, op dieselfde dag, gedurende dieselfde sessie, beide Johlene én I will always love you opgeneem het. Een ná die ander. Hoe merkwaardig om te dink dat twee sulke tydlose treffers oomblikke na mekaar in dié ateljee gebore is.

Die Country Music Hall of Fame is 'n huldeblyk aan die ryk geskiedenis en nalatenskap van countrymusiek. Dit bevat 'n groot versameling memorabilia, artefakte en interaktiewe uitstallings wat die evolusie van countrymusiek beskryf en sy legendariese kunstenaars vereer. Deur gebruik te maak van historiese opnames en instrumente, sowel as van verhooguitrustings en persoonlike besittings van countrymusiek-ikone, neem die museum besoekers op 'n omvattende reis deur die genre se verlede.

Brand logo
Volg my, maar moenie my ágtervolg nie.