Tennessee – Memphis – National Civil Rights Museum

Gedurende die 1950’s was swart Amerikaners verplig om openbare busse deur die agterste deur te bestyg, terwyl blankes toegelaat is om die voorste deur te gebruik. As die bus vol was, en ‘n blanke persoon klim op, moes ‘n swart persoon vir die blanke plek maak en na die agterkant van die bus beweeg. Op 1 Desember 1955 was die 42-jarige Rosa Parks in Montgomery, Alabama, ‘n passasier op ‘n openbare bus. Die bus was vol, en toe ‘n blanke man opklim, het sy geweier om haar sitplek vir dié man te ontruim. Nadat die bestuurder daarop aangedring het dat sy na die agterkant van die bus beweeg, en sy steeds geweier het om sy bevel te gehoorsaam, is die polisie ontbied en is sy in hegtenis geneem. Vier dae later het ‘n hof haar ‘n boete van $14 opgelê. In reaksie hierop het die plaaslike tak van die NAACP (The National Association for the Advancement of Colored People) ‘n busboikot van stapel gestuur. Dié boikot het vir meer as ‘n jaar geduur, wat tot groot ongerief vir die swart inwoners van Montgomery gelei het. Gedurende die busboikot het die redelik onbekende Eerwaarde Martin Luther King Jr. na vore getree as een van die sleutelfigure in die stryd teen die onregte wat swart Amerikaners aangedoen is. Nadat ‘n petrolbom deur een van die vensters van sy huis gegooi is, het sy ware karakter begin deurskemer. “We must love our white brothers, no matter what they do to us,” het hy gesê. “We must make them know that we love them.” In Junie 1956 het die Hooggeregshof beslis dat die segregasie van openbare vervoer onkonstitusioneel was, en toe die Eerwaarde, 381 dae nadat die boikot ‘n aanvang geneem het, aan boord van die eerste gedesegregeerde bus gaan, het hy sy ondersteuners gemaan met die volgende woorde: “Do not boast! Do not brag! Be quiet but friendly; proud but not arrogant.” Sjoe ...

In verskeie suidelike deelstate was segregasie gedurende die 1960’s steeds aan die orde van die dag. In Greensboro, Noord-Carolina, het vier studente besluit om hulle by die toonbank van ‘n Woolworths-tak se ‘slegs blankes’-kiosk te gaan tuismaak, en te weier om te verkas totdat hulle bedien is. Hulle is uiteindelik met geweld verwyder, maar hulle was die volgende dag terug. En ook die volgende dag. En ook die dag daarna. En elke dag het meer en meer swart jongmense hulle na dié kiosk gewend, waar hulle geweier het om hulle sitplekke te ontruim totdat hulle die geleentheid gegee is om iets van die spyskaart af te bestel. Terwyl die studente gesit en studeer het, is hulle deur blankes uitgejou, is suiker oor hulle koppe uitgegooi, en is hulle hardhandig rondgepluk, terwyl die kioskpersoneel verseg het om hulle te bedien. Dié insident het natuurlik die aandag van die media getrek, en nadat landswye blootstelling daaraan gegee is, het die sogenaamde ‘sit-ins’ ook na ander dele van die VSA versprei. Nie net het dit die menseregtestryd ferm in die Amerikaanse kollektiewe bewussyn geplaas nie, maar in talle dorpe en stede het dit ook daartoe gelei dat restaurante gedesegregeer is.