Die Shwedagon Pagode in Jangon, waarvan die hoeksteen reeds 2600 jaar gelede gelê is. Hier bekyk ek die goue stoepa wat 99 meter die lug in toring, en derhalwe die Jangon-silhoeët domineer.
Die Boeddha word vereer deur jong Boeddhistiese nonne, oftewel ... um ... nonnatjies. :-)
Ek en Manie in ons longyis (long-djies). Bykans elke man in Mianmar dra een, en om besoek aan enige TPS in Mianmar te bring, word alle manlike besoekers verplig om óók een van dié tradisionele rompe te dra.
Terwyl 'n jong monnik in Mianmar in 'n maroen gewaad getooi word, spog jong nonne met dié helderkleurige pienk uitrustings. Tóg te fraai!
Die goue stoepa van die Shwedagon Pagode is bedek met egte goud, en die kroon aan die heel boonste tippie daarvan huisves 5 448 diamante en 2 317 robyne. Of só word daar in elk geval beweer.
Met die verloop van die eeue het die Shwedagon Pagode ontwikkel tot die mees vername plek van aanbidding in die ganse Mianmar. Tienduisende Boeddhiste van reg oor die wêreld pak jaarliks 'n pelgrimstog daarheen aan.
Die Shwedagon Pagode kan jou laat glo dat jy heelhuids in 'n sprokiesboek ingestap het.