Salt Lake City is nie net die hoofstad van die deelstaat Utah nie, dis ook die hoofstad van die Mormone - The Church of Jesus Christ of Latter Day Saints.
Sportliefhebbers mag dalk onthou dat die Olimpiese Winterspele van 2002 in Salt Lake City aangebied is.
In die hartjie van Salt Lake City tref jy Temple Square aan - die Vatikaanstad van die Mormone.
Die kompleks bevat verskeie geboue - sommige wat nog aktief vir aanbidding gebruik word, en sommige wat uitstallings huisves wat die geskiedenis van Mormonisme belig.
Besoekers aan Temple Square word op 'n begeleide toer deur die kompleks geneem. Groot was my verbasing toe ek ontdek het dat óns begeleiding waargeneem sou word deur 'n Afrikaanse meisie van Magaliesburg af.
Joseph Smith is die vader van Mormonisme. Op bladsy 198 wei ek in besonderhede uit oor die ontstaan en die vroeë geskiedenis van dié aweregse vertakking van Christendom.
Mormone glo in Jesus Chritus, maar hulle glo ook dat 'n addisionele evangelie van Jesus deur die engel Moroni aan Joseph Smith openbaar is.
In die Mormoonmuseum word die geskiedenis van Mormonisme behóórlik blootgelê.
Dié kerk het reeds ver buite die grense van Utah versprei, en dit bestaan vandag uit sowat 15 miljoen lidmate wêreldwyd.
Klink soos Afrikaners. As jy nie hou van jou kerk nie, stig 'n nuwe een!
Net buite Salt Lake City lê die Great Salt Lake, en ons moes eenvoudig daar ook 'n draai gaan maak.
Ons het laatmiddag daar aangedoen - die beste tyd om foto's te neem. Die foto's wat ek daardie middag by die Great Salt Lake geneem het, tel onder my gunstelinge van my ganse roadtrip.