Pjongjang – Children’s Palace

Voordat ons op die vertoning getrakteer is, moes ons eers ons begeleide weg deur ‘n paar van die skool se klaskamers vind. In een was daar sowat twee dosyn kinders met trekklaviere. Hulle kon nie veel ouer as twaalf jaar oud gewees het nie, maar selfs oorle' Ollie Viljoen sou beïndruk wees met daardie vingertjies wat amper onsigbaar vinnig oor die klawers rol.

In die 6,000-sitplek-ouditorium is ons deur ‘n see van kindergesiggies begroet. Die Children’s Palace bring hulle skouspel weekliks op die planke, en die kinders wat "gewone" skole in die stad bywoon, kry een keer per jaar die geleentheid om hulle aan dié skoolkonsert-cum-pronkaktiwiteit te vergaap. Behalwe vir ‘n paar toeriste was die ouditorium volgepak met duisende skoolkinders, en was húlle nou beïndruk met ons groot-oog-lang-neus-mense in hulle teenwoordigheid (volgens Asiërs het Westerlinge groot oë en lang neuse, en dis ook hoe daar met tye na ons verwys is – agter ons rûe natuurlik … of dan seker eerder agter ons groot oë en lang neuse). Nadat ek daaraan gewoond begin raak het om in publieke plekke met agterdog aangestaar te word, was dit heerlik verfrissend om vir ‘n verandering deur ‘n horde vriendelike gesiggies en waaiende handjies verwelkom te word.

Met my aankoms by die ouditorium is ek 'n bos blomme in die hand gestop. Ek het baie gevlei gevoel, want só iets gebeur nie aldag met my nie. Voordat ek egter 'n kans sou kry om een van dié blommetjies te pars, is ek meegedeel dat ek 'gekies' is om, na afloop van die vertoning, dié bos blomme aan een van die kinders te oorhandig. Dit was nogal intimiderend om onder sulke vreemde omstandighede die verhoog voor al daardie mense te bestyg, en om boonop lukraak 'n kind te kies aan wie ek die blomme sou oorhandig. Onder dawerende applous het ek die skattige dogtertjie wat die openingsmonoloog gevoer het raakgesien, en ek het terstond die blomme in haar hande gedruk. Ek was van plan om haar hand te skud, maar voor ek my kom kry het háár hand opgeskiet tot hier langs haar kop - in 'n baie formele saluut! Ek is baie lanklaas gesalueer, en ek moet sê dit het my nogal heel belangrik laat voel. 😃