Phnom Penh

Anders as Aladdin het hierdie oom nie 'n towertapyt om oor die weg mee te kom nie. Ek het een middag in Phnom Phen op 'n betaalde fotografietoer gegaan. Ek en twee ander amateurfotograwe is op 'n vier uur lange staptoer deur 'n professionele, plaaslike fotograaf vergesel. Hy het ons laat uitkyk vir fotogeleenthede, terwyl hy trieks met my kamera uitgehaal het wat ek nie kon glo nie. Ons het hordes foto's geneem, en baie daarvan maak deel uit van die foto's hier onder. Die een hiernaas maak ook deel uit van dié troppie, maar dié een lê my ékstra na aan die hart. Ek weet dis 'n spesiale foto, want dis geneem met een van die trieks van daai pro. Hy het my gewys hoe om te fokus op een deel van 'n bewegende objek, sodat nét daardie deel in fokus bly. Nie dat ek vandag meer kan onthou hóé nie, maar nietemin. Nadat hy my gewys het hoe, het ek 'n hele paar oefenskote gevat. Later het ek dit mooi reggekry. En toe kom hierdie bejaarde Boeddhis agterop 'n motorfiets verbygejaag! Hy het nie stadig gery nie, so ek moes gou spring. Ek het met my nuwe triek op die monnik se gesig gefokus, en in die verbygaan 'n paar keer die kamera laat kliek. Dié een was die beste van die oes. Die monnik se gesig is in fokus, maar alles anders is net so klein bietjie geblur. Dis skaars opmerklik, maar dit trek dadelik jou oog na die deel in fokus toe - die monnik se gesig! Tadaa! Hulle sê as jy jou eie grappies moet verduidelik, dan is dit heel moontlik net nie snaaks nie. So, as jy jou eie foto moet verduidelik, dan geld dieselfde seker ook. Ha ha! Maar ten minste weet jy nou waarom dié foto so spesiaal is vir my.

In Suidoos-Asië is straatkos gróót besigheid. Niks vreemds daaraan nie. Talle mense lewe in armoede, en het nie hulle eie kombuise nie. Derhalwe maak hulle staat op ouens soos dié om eenvoudige, goedkoop etes te verskaf. Niks vreemd dááraan nie. Daar is egter 'n kinkel in die kabel wanneer dit by Kambodjaanse straatkos kom ...

Paddas is dalk nie so vreemd as 'n bron van proteïn nie. Die Franse eet dit immers vir brêkfis. En niemand gee húlle gas daaroor nie. Maar hiér hou ek 'n sakkie pick-a-mix vas wat ek by die noedelverkoper hierbo se buurman gekoop het. Dis 'n allegaartjie van diepgebraade paddatjies, krieke, sywurms en kewers.