‘n Belgiese drietal – Waterloo, Brussel en Ieper

Ek was lank reeds van voornemens om besoek te bring aan Waterloo. Dis immers nie aldag dat ’n mens die kans kry om te gaan kyk hoe ’n plek lyk wat die inspirasie was vir ‘n wêreldwye nommer-een popliedjie nie. Maar behalwe dat dit as hoeksteen vir ABBA se stormloop van die treffersparades van die 1970’s gedien het, was dit ook daar waar Napoleon Bonaparte vir die laaste keer sy alie gesien het. Napoleon se imperialistiese lugkastele is ná ’n mislukte inval in Rusland beëindig, en nadat hy gevange geneem is, is hy in 1814 na die eiland Elba verban. ’n Jaar later het hy egter ontsnap, aan die suidkus van Frankryk geland en nogmaals ’n Franse mag van nagenoeg 72,000 manskappe op die been gebring. Die geallieerde magte van die tyd was egter vasbeslote om hom dié keer geheel en al te verwoes, en op 18 Junie 1815 het Napoleon naby die Belgiese dorpie Waterloo te staan gekom teen ’n mag bestaande uit Britse, Hollandse en Belgiese soldate, onder die bevel van die Hertog van Wellington. Hier is ek in die kamer in die Waterloo museum, waar Wellington die nag voor die veldslag deurgebring het.

Daar was, behalwe vir Wellington se weermag, ook weermagte van Pruise (Noord-Duitsland), Rusland en Oostenryk aan't opruk teen Napoleon. Die enigste vervoermiddel vir troepe in daardie dae was egter te voet, wat meegebring het dat die Russiese en Oostenrykse weermagte nog ’n paar dae se mars weg was van die slagveld. Die Pruisiese weermag, onder bevel van Blucher, het egter tydens die veldslag daar aangesuiker gekom en Wellington ’n handjie (en ’n paar kruitbolle op die koop toe) gegee - dit was ’n belangrike faktor wat bygedra het tot Napoleon se nederlaag.

Hierdie foto plaas die omvang van die gevegsterrein netjies in perspektief. Napoleon se magte was min of meer aan die linkerkant van hierdie foto geposisioneer, terwyl Wellington s'n min of meer na regs gelê het. Die aand voor die veldslag het daar ’n swaar reënbui uitgesak, wat die grondoppervlakte in ’n modderbad omskep het. Die kanonne wat in daardie dae gebruik is kon die meeste verwoesting saai wanneer die loodballe oor die grond kon bons – soos ’n plat klippie wat oor die oppervlak van ’n dam skaats. Napoleon het vroegoggend ’n paar sarsies in die rigting van Wellington se magte afgevuur, maar het spoedig besef dat dit ’n futiele oefening was. Waar die swaar kanonkoeëls die grond getref het, dáár het dit in die modder bly vassteek - niks se gebonsery sodat die maksimum vyandige ledemate in die verbyvlieg afgeruk kon word nie. Napoleon het sy aanval derhalwe gestaak en besluit om te wag tot die grond effens uitgedroog het - ’n fatale flater. Blucher se Pruisiese magte was onderweg na die slagveld toe, met Napoleon salig onbewus van dié feit. Facebook status updates was immers in 1815 nog net ’n produk van wetenskapsfiksie. Napoleon se huiwering het vir Wellington kosbare tyd gewen, en nét toe dit wou lyk asof Napoleon die oorhand sou kry, het Blucher se manskappe vanuit die woud agter hierdie foto verskyn en daadwerklik bygedra tot Napoleon se ondergang.

Waterloo is slegs sowat 40km van Brussel af, so ons het sommer daar gaan oornag. Hiérdie muurskildery van Kuifie, Kaptein Sardyn en Spokie, in die Brusselse middestad, het tydens ’n vorige besoek vir die eerste keer my belangstelling in hierdie oulike mannetjie geprikkel. België is die skrywer van die Kuifie-boeke, Hergé, se geboorteland, en hulle het omtrént ’n heldeverering vir die man. Ek het destyds een van die boeke gekoop en vandag besit ek die hele reeks - dít ten spyte daarvan dat die gemiddelde lesersouderdom van dié boeke 13 is.

Van Brussel af is ons weswaarts na Ypres (Ieper), waar die Duitse opmars in die Eerste Wêreldoorlog gestuit is en loopgraaf-oorlogvoering derhalwe ontstaan het. Die In Flanders Fields-museum gee ’n gedetailleerde uiteensetting van die redes vir die uitbreek van die oorlog, die aard van loopgraaf-oorlogvoering, sowel as van die haglike toestande in die loopgrawe en in Niemandsland (die oop stuk grond tussen die opponerende loopgrawe). Boonop bevat dit ook verbysterende inligting oor onder andere die Christmas Truce van 1914, toe soldate aan weerskante van Niemandsland op Kersdag uit hulle loopgrawe te voorskyn gekom en nonchalant die lede van die opponerende weermag tegemoet geloop het. Ná ’n stukkie kletsery, die oor-en-weer kykery na mekaar se gesinsfoto’s, en selfs ’n vriendskaplike sokkerwedstryd, het die troepe teruggekeer na hulle onderskeie loopgrawe, en van voor af die wit waks uit mekaar uit geskiet.

Dit was interessant/skokkend/hartseer om te sien met hoeveel geesdrif jong seuns die slagveld tegemoet gegaan het. Patriotisme het hoogty gevier en niemand sou kon voorsien nie dat dit ’n uitgerekte stryd sou wees waarin miljoene lewens opgeoffer sou word vir die aanwins van skaars ’n kilometer of twee in grondgebied.

Chemiese oorlogvoering in sy embrioniese fase. Die Duitsers was die baanbrekers van die loslating van giftige gasse oor die vyand se loopgrawe. Die enigste manier waarop dit egter gedoen kon word, was deur gebruik te maak van die wind. Dikwels, net nadat die gas vrygelaat is, sou die windrigting draai, wat ’n gasaanval op die aanvallers se éie manskappe tot gevolg gehad het.

Die oorlog van 1914-1918 het nie destyds as die Eerste Wêreldoorlog bekend gestaan nie, maar eenvoudig as “The Great War”. Dit was veronderstel om “the war to end all wars” te wees. Vandag weet ons natuurlik dat dit toe nooit was nie, en soos hierdie muurskildery aandui, was daar al 126 gewapende konflikte wêreldwyd sedert 1918.

’n Monument in Ieper ter nagedagtenis aan die gesneuweldes. Van der Berg, Van der Riet, Venter, Viljoen. Was daar nie Van der Merwes nie, of was hulle eenvoudig uitgeslape genoeg om ongedeerd uit elke verknorsing te kom? Nee wag - hulle was natuurlik almal besig om babas te maak, dié dat daar so baie van ons is!

’n Loopgraaf. Dis uiters beklemmend en jy kan jou net die wanhoop voorstel van hulle wat so te sê daarin gewoon het. Dit was dikwels kniediep oorspoel en trenchfoot, oftewel vrotpootjie, het die lewens van talle soldate geëis. Die afstootlikste van als was moontlik die reuk van ontbindende mensvleis, komende van die lyke wat oor Niemandsland besaai was. Wat ’n aaklige gedagte...