Muay Thai

Thailand

Die ingang van die Rajadamnern Stadion - die heiligdom van Muay Thai in Thailand.

Nee, dis nié waar jy die kaartjies optel om 'n konsert by te woon van daardie 1980's-groep wat bekendheid verwerf het vir hulle treffer "I wanna know what love is" nie.

Buitelanders word gedwing om hulle kaartjies by dié venster af te haal, sodat hulle nie per abuis op die heel boonste vlak van die stadion beland nie - dáár waar die toeskouers deur traliewerk ingehok word, en die partytjie róf kan raak. Die bedrag wat ek moes opdok (2500 baht) is gelykstaande aan R1300 - 'n aardige bedrag, net om toe te kyk hoe mense die wit waks uit mekaar uit belêksêm. Die vuisgevegte wat ek op hoërskool langs die fietsloods aanskou het was gratis, en sommige van daai ouens se vaardighede was amper net so goed as dié wat ek in die Rajadamnern Stadion aanskou het.

Dís waar jy beland wanneer jy 'n uitlander is, en 2500 baht vir jou kaartjie gehoes het - rég langs die kryt.

Voordat daar enige sprake van 'n geveg kon wees, moes die hoogs komplekse Muay Thai-aanvangsritueel eers tot uitvoer gebring word. Nadat hulde aan die Thaise koning gebring is, het albei vegters om die beurt na elkeen van die vier hoeke van die kryt geloop om 'n soentjie teen die sponsomhulsel van elke hoekpaal te plant - sommer twéé keer.

Sestien soentjies later is daar om en om in die rondte geloop totdat beide vegters uiteindelik op hulle knieë neergeval het om die Muay Thai-gode aan te roep.

Uiteindelik, na etlike minute se hanna-hanna, was dit tyd vir aksie. Aanvanklik het die manne soos ballerinas rondgetrippel en die mees impotante vuishoutjies in mekaar se rigting gemik-mik.

Maar toe hulle eers vlamgevat het, was die uiteinde 'n brutale vuisgeveg wat letterlik bloed en sweet laat spat het.

Min gevegte sien ooit die einde van die toegelate vyf rondtes, aangesien een van die vegters teen daai tyd al lankal plat op sy rug lê - uit soos 'n kers.

Op die aand wat ek my in die Rajadamnern Stadion bevind het, was daar 'n volle nege gevegte op die spyskaart. Nodeloos om te sê was ek trommeldik na afloop van al dié aksie.

Elke geveg word met die skril geskal van 'n Pee Chawaa aangekondig, en wanneer die vuiste eers begin klap, dan woeker dié groepie dat hoor en sien vergaan. Die ritme neem stelselmatig toe, en teen die einde van elke rondte klink dit behoorlik of dié "musiek" in fast forward gespeel word!

Katswink! Dankie dat jy probeer het. Mens wonder wat hierdie jong ouens besiel om hulle gesondheid só op die spel te plaas. Die antwoord, soos met baie ander vrae, is geld. Thailand is 'n arm land, en met die geld wat hierdie jongmanne met hulle vuiste verdien, hou hulle soms hele families aan die lewe.

Brand logo
Volg my, maar moenie my ágtervolg nie.