Mianmar se mense

‘n Visserman op Inlemeer, midde-in die uitvoer van ‘n visvangtegniek wat uniek is aan dié deel van die wêreld. Omdat die meer besaai is met riete en ander plantgewasse, deug ‘n gewone visstok of vissersnet nie daar nie. Derhalwe balanseer die manne hulself op die verste punt van die skuit, om só ‘n goeie uitsig op moontlike prooi in die water te kry. Wanneer ‘n potensiële slagoffer bespeur word, word die kegel wat die visserman in sy hand hou in die water geplons, en só bevind ta hom dan in ‘n klein tronkie waaruit hy nie kan ontsnap nie. Hierdie tegniek is só eie aan die vissers van Inlemeer, dat dit selfs op aandenkings soos yskasmagnete verskyn.

Dit behoort as geen verrassing te kom nie dat daar na dié vroue verwys word as "die langnekvroue van Mianmar". Hulle is lede van die Kayan-stam, wat meen dat die lang nekke hul vroue meer aantreklik maak. Ek verskil egter heftig met dié aanspraak. Jigggg. Ironies genoeg het die gebruik om hulle nekke met koperringe uit te rek onder die vroue van dié stam ontstaan omdat dit hulle mínder aantreklik sou maak vir vyandiggesinde stamme, wat dan die kans op ontvoering deur hierdie vyande sou verskraal. Nou ja, dáármee kan ek wél akkoord gaan.