Lhasa

Tibet

Lhasa is die hoofstad van Tibet - 'n provinsie van China wat gereeld om die verkeerde redes in die nuus is. Dit lyk en voel glad nie soos 'n Chinese stad nie. Die mense lyk anders, praat anders en aanbid anders as Han-Chinese - die grootste etniese groep in China. Teen 3 650m bo seespieël is dit boonop een van die mees hoogs geleë stede ter wêreld. Maar wat 'n wonderlike, verrykende plek is dit nie! Hierdie is Barkhor-plein, neffens die Jokhang-tempel - 'n miernes van bedrywigheid in die hartjie van Lhasa.

'n Prostreerder onderweg na haar daaglikse mikpunt van 533 prostrasies, met die imposante Potala-paleis wat in die agtergrond waghou oor die verrigtinge. Die Potala-paleis is 'n argitektoniese wonder wat vir eeue lank as die winterwoning van die Dalai Lama gedien het. Dit is oorspronklik in die 7de eeu gebou, en is later deur opeenvolgende Dalai Lamas uitgebrei. Die paleis bestaan uit die Wit Paleis, wat as die administratiewe sentrum gedien het, en die Rooi Paleis, wat onder andere talle grafte van voormalige Dalai Lamas huisves.

Prostrasie is Tibet se nasionale sport. Die ouer garde moet daagliks 108 daarvan voor die ingang van die Jokhang-tempel uitvoer, terwyl die jongeres daagliks om en by 533 Boeddhaburpies moet uitvoer.

Hou, arms, hou! Hou, arms, hou! Hulle's kort op jou hakke!

‘n Gebedspilaar in Lhasa, oortrek met gebedsvlaggies.

Die deure van die Jokhang-tempel, waarvan die hoeksteen uit 652 dateer - 'n ronde 1 000 jaar voordat die Drommedaris in Tafelbaai anker gegooi het.

Hierdie silindriese toestelle is gebedswiele, en dit kom wydverspreid voor in die Boeddhistiese wêreld, nie net in Tibet nie. Hierdie wiele bevat inskrywings van Boeddhistiese mantras, oftewel gebede. Daar word geglo dat die draai van ‘n gebedswiel dieselfde effek het as wanneer die mantras wat daarop verskyn mondelings voorgedra word.

'n Agterstraatjie in Lhasa ... waar jy beslis nié 'n grypdief hoef te vrees nie.

Die Jokhang-tempel word as die heligste tempel in die ganse Tibet beskou, tot so 'n mate dat tienduisende Tibettaanse pelgrims jaarliks van heinde en verre daarheen stroom.

Wat 'n hartseer gesig - die leë troon van die Dalai Lama in die Jokhang-tempel.

'n Klassieke voorbeeld van nie een nie, maar twéé van Tibet se uitstaande kenmerke - getroude dames in gestreepte voorskote om die lyf, met gebedswieletjies in die hand.

Ek was baie verras om te ontdek dat die kleur van Tibettaanse monnikke se klere, net soos die vel van ‘n verkleurmannetjie, verander na gelang van die kleur van die agtergrond.

Die ingang na die Potala-paleis.

Net om te bewys dat Tibet wél deel van China is, verskyn die Potala-paleis op die agterkant van die Chinese 50-Yuan-banknoot.

Brand logo
Volg my, maar moenie my ágtervolg nie.