Nevada – Las Vegas

VSA

Daar kan geen twyfel wees waar jy jou bevind wanneer jy dié beroemde baken kan sien nie.

Alles in Amerika is meer ah-sum as op enige ander plek ter wêreld, maar Las vegas is ah-sum in die oortreffende trap.

Las Vegas, ook bekend as die "wêreldhoofstad van vermaak", het 'n interessante geskiedenis wat terugdateer na sy relatief onlangse stigting in 1905. Dit was aanvanklik 'n klein spoorwegdorpie, maar het snelle groei in die 1930's beleef met die bou van die nabye Hooverdam. Die bou van dié dam het 'n toestroming van werkers gebring wat die ontwikkeling van die stad aangevuur het. In die 1940's en 1950's het Las Vegas sinoniem geword met glansryke casino's, wat beroemdes en ook gewone besoekers van reg oor die wêreld heen gelok het. Die bekendste straat in die stad – The Strip - het begin vorm aanneem, met ikoniese hotelle wat soos paddastoele opgeskiet het. Oor die dekades het Las Vegas ontwikkel tot 'n spilpunt vir dobbel en naglewe, wat sy reputasie versterk het as 'n bestemming vir luukse, opwindende, oordadige vermaak.

Die Excalibur Hotel en Casino, wat lyk of dit beter tuis sal hoort in Disneyland!

Wag 'n bietjie. Is dit dan nie die Statue of Liberty daai nie? Nee, dis 'n replika, want wanneer jy in Las Vegas is, wil jy darem ook voel asof jy in New York is, of hoe? Boonop sal jy nie vergeet in watter hotel jy tuisgaan nie, want dié beeld van Lady Liberty staan op die perseel van die New York-New York Hotel.

Die Bellagio Fontein. 'n Watervertoning soos min word hier uitgevoer - elke liewe dag, elke liewe 30 minute. Net 'n aks meer indrukwekkend as die waterorrel by Centurionmeer in die 1980's.

Wag 'n bietjie. Is dit dan nie die Eiffeltoring daai nie? Nee, dis 'n replika, want wanneer jy in Las Vegas is, wil jy darem ook voel asof jy in Parys is, of hoe? Welkom by die Paris Las Vegas Hotel en Casino!

Straatkunstenaars word by die dosyne in Las Vegas aangetref. Só hou hulle nie net die pot aan die kook nie, maar staan ook die kans om deur iemand met invloed raakgesien te word, en dalk 'n kans gegee te word op een van die groot verhoë waarvoor dié stad so bekend is.

Ek kon nie onteenseglike bevestiging kry of Caesar régtig in Las Vegas aangedoen het nie. Ek vermoed dus dat dit 'n blote bemarkingsfoefie is.

Ek is al vir baie jare 'n fan van The Killers. Dié band is van Las Vegas af, en hulle tweede vollengte album is getiteld "Sam's Town" - dít omrede hulle tromspeler as 'n tiener die toegangsbord van dié hotel en casino vanuit sy slaapkamervenster kon sien. Sam's Town was vir twee aande my huis. Wat 'n ondervinding was dit nie om in 'n régte Las Vegas-casino te kon tuisgaan. Ek kry egter nou nog nagmerries oor sommige van die goed wat ek daar gesien het - goed wat hoofsaaklik verband hou met hoe mense hulle eie lewens kan opfoeter met verslawings van velerlei soorte.

Die High Roller is die grootste "observation wheel" ter wêreld - selfs groter as die London Eye. Van daar af het mens 'n onbelemmerde uitsig oor die hele Las Vegas.

Brand logo
Volg my, maar moenie my ágtervolg nie.