Arizona – Grand Canyon

Verbeel jou jy staan op 'n gelyk stuk aarde. Probeer nou om 'n punt op die horison te identifiseer wat sowat vyf-en-twintig kilometer van jou af weg is. Verbeel jou nou dat die grond tussen jou en daardie denkbeeldige punt in die verte eenvoudig wegsink in die aarde, in 'n opeengestapelde netwerk van kranse, valleie en 'n rivier. Dít is wat die Grand Canyon is.

Ek het een van die staproetes teen die canyon se wand af begin volg. Dit was egter op dié paadjie dat ek hardop gewens het dat ek tóg maar crampons aan my skoene gehad het. Dit was soos om op 'n ongelyke ysskaatsbaan te probeer loop, en nadat ek 'n handvol kere hárd met Moeder Aarde kennis gemaak het, het ek maar eerder die aftog geblaas en teruggekeer na die boonste rand van die canyon.