Die oorlog kom! (Al is dit lánkal reeds verby)

Noord-Korea

By die Oorlogsmuseum in Pyongyang, oftewel die “Victorious Fatherland Liberation War Museum”, soos wat dit amptelik bekend staan, is ons sonder enige hartlikheid deur ‘n jongerige vrou in ‘n ouerige uniform verwelkom. “My name is Missus Wong,” het sy gesê, “and if you have any questions, I will answer them at the end of the tour.” Dit was voor die hand liggend dat dié nie ‘n interaktiewe toer sou wees nie, en dat ons daar was om na die Koreaanse weergawe van die geskiedenis te luister. En alleenlik dít. Enige debatvoering sou streng buite perke wees, en ons sou maar verlief moes neem dat ons gewillige onderdrukkers van ons ongeloof sou moes wees.

Die befaamde Victorious Fatherland Liberation War Museum. Die meeste monumente en standbeelde in Noord-Korea kreun onder simboliese waarde. Die voetstuk van dié standbeeld is byvoorbeeld 7 meter hoog, terwyl die standbeeld self 27 meter die lug in toring. 7/27. Want op 27 Julie 1953 is die skietstilstand tussen Noord-Korea en die VN-koalisie onderteken.

1953 - die jaar wat die Koreaanse Oorlog tot 'n einde gekom het.

Aan weerskante van die aanloop tot die hoofgebou van die Oorlogsmuseum word ‘n enorme hoeveelheid wapentuig uitgestal. Aan die een flank kon ons na vegvliegtuie, tenks, missiellanseerders en selfs ‘n helikopter kyk wat gedurende die oorlog by die Amerikaners afgeneem is. Die meeste daarvan was verfrommel en in donker kleure geverf. Missus Wong het ons met groot trots meegedeel dat niks minder nie as 12,000 Amerikaanse vegvliegtuie tydens die oorlog neergeskiet is, maar toe ek die goue reël verbreek deur te vra hoeveel Noord-Koreaanse vegvliegtuie neergeskiet is, het sy stompsinnig geantwoord met: “I don’t have that information”. Aan die ander flank word dosyne stuks Noord-Koreaanse wapentuig uitgestal. Hiérdie vegvliegtuie, tenks, missiellanseerders en selfs ‘n helikopter was egter in perfekte kondisie, en was met silwer en rooi verf versier. Die kontras was opmerklik, maar nie juis verbasend nie.

It's fun to stay at the Y-M-C-A! Hierdie man is Bobby Hall, ‘n Amerikaner wie se helikopter in 1994 neergeskiet is nadat dit die Noord-Koreaanse lugruim binnegedring het. Volgens Pyongyang was hy besig met spioenasiebedrywighede, maar Washington het volgehou dat dit bloot ‘n navigasiefout was. Wie sal ons glo?

Elke keer wanneer ‘n vegvliegtuig deur ‘n Noord-Koreaanse lugafweerkanon afgeskiet is, is ‘n wit sterretjie op die loop van die betrokke kanon aangebring. Agter die kanon in die voorgrond staan een wat se loop met 109 sterretjies versier is – die Noord-Koreaanse lugafweerbrigade se eie Rooi Baron.

“Foutbal!” Ek was heeltemal uit die veld geslaan om te leer dat Missus Wong, net soos ek, ‘n krieketentoesias is. Ha ha, nie regtig nie – sy het maar net aangedui hoeveel leuens sy reeds op daardie stadium vertel het.

Die USS Pueblo, ‘n Amerikaanse “spioenskip” wat in 1968 onderskep is nadat dit onregmatig in Noord-Koreaanse vaarwater betrap is. Hierdie insident het tot ‘n ernstige diplomatieke krisis gelei wat eers ontlont is nadat Lloyd Butcher, die skip se kaptein, ‘n skriftelike skulderkenning aan die Noord-Koreane besorg het. Geen melding word gemaak van die sielkundige marteling wat Butcher se skulderkenning voorafgegaan het nie, maar daar is wel groot gewag gemaak van die morele oorwinning wat die Noord-Koreane danksy dié insident oor die “US Imperialists” behaal het. Vandag lê die USS Pueblo vasgemeer op die perseel van die Oorlogsmuseum, en hoewel dit vir die Noord-Koreane ‘n hélse prestasie is dat hulle dié “oorlogskip” kon onderskep, het ek al meer indrukwekkende vaartuie op ‘n Sondagmiddag langs die Vaaldam gesien.

Die kinders van dié muishondland word die genadelose propaganda óók nie gespaar nie. In Wonsan het ons byvoorbeeld verby ‘n kleuterskool gestap, en ek moes wraggies drie keer kyk om sin te kon maak van die kleurvolle, glimlaggende sementbeertjies wat voor die ingang gemonteer was ...

Ons baba-oppassers, oftewel die KITC-gidse in wie se sorg ons gelaat is, was nie gretig om daaroor uit te wei nie, maar het tóg erken dat “Kill the American” een van die gewildste tydverdrywe op Noord-Koreaanse skoolspeelgronde is. Blykbaar word ‘n afbeelding van ‘n Amerikaanse soldaat uit papierpap saamgeflans, waarna die kinders dit herhaaldelik skop en slaan totdat dit letterlik aan flarde is. Dit mag dalk ongelooflik klink dat kinders hulself op dié manier kan vermaak, maar in ‘n anti-kapitalistiese land soos Noord-Korea kan ‘n mens seker ook nie té verbaas wees dat Monopoly nié die speletjie van keuse onder kinders is nie.

‘n Verkeerspolisieman in Kaesong. Met daardie indrukwekkende uniform sal enige motoris in sy spoor trap, maar soos wat duidelik uit dié foto afgelei kan word is verkeersopeenhopings nie eintlik ‘n ding wat die regime enige hoofbrekens besorg nie.

‘n Wyfie-spietkop in Pjongjang. “Uhm, dame, eeets beeehind yooo!”

Die DMZ, oftewel die gedemilitariseerde sone tussen Noord- en Suid-Korea.

Ons naamlose gids by die DMZ, wat met die nekspiere wat benodig word om dáárdie hoed in plek te hou, seker ook in sy vrye tyd as die vaskopstut van die nasionale rugbyspan diens doen.

Wagte aan die Noord-Koreaanse kant van die DMZ...neffens ‘n Samsung-lugverkoelingstelsel wat sy oorsprong in die gehate Suid-Korea het. O, die ironie.

Die vertrek by die DMZ waar die skietstilstand in 1953 onderteken is.

Volgens ons gids was die Amerikaners só verleë oor die nederlaag wat hulle tydens die oorlog gely het, dat hulle ‘n VN-vlag na die onderhandelingstafel toe gebring het, sodat dié later uitgestal kon word by die boek met die rooi omhulsel waarin die terme van die skietstilstand opgeteken staan.

Brand logo
Volg my, maar moenie my ágtervolg nie.