Colorado – Denver

Colorado was een van die heel eerste Amerikaanse deelstate wat die rekreasionele gebruik van cannabis gewettig het. Cannabis Station is een van dosyne winkels in Denver waar Die Krui wettiglik aangeskaf kan word. Dit gee terselfdertyd ook sommer nuwe betekenis aan die gesegde: "Ek was op 'n stasie."

Die vier komediante wat ons daai aand vermaak het was almal baie snaaks. En nou sê ek nie hulle was humoristies nie, ek sê hulle was snaaks. Elkeen het dieselfde "uniform" gedra, en hulle het almal hulle grappies baie hard vertel - nisgrappies wat jy eintlik net kan vang indien jy ook in Denver bly. Maar lag is vir seker die beste medisyne, en ek het tóg daai aand 'n goeie dosis daarvan ingekry.

Ek verduidelik op bladsy 181 van my boek hoe dit gekom het dat ek my bevind het by dié ekspo vir "groen" besighede. Dit was lank voordat die konstitusionele hof van Suid-Afrika gelas het dat daggagebruikers in die privaatheid van hulle eie huise dagga mag kweek, besit en gebruik. Dat papegaaislaai só oop en bloot bespreek kon word, was vir my 'n hoogs amusante nuutjie.