Chon Sun – Oom Kim sny koring op die land

Landbou in die algemeen, en gekollektiviseerde landbou in die besonder, is die Noord-Koreaanse bakermat. Dis immers danksy die sweet van die plaaswerkers dat die res van die land se revolusionêre gees, waarmee die vyandige imperialiste beveg moet word, gevoed kan word. Die Chon Sun Farm, wat oor 450 hektaar strek, is die tuiste van 9,500 mense, waarvan 650 voltyds boer. Die boere, sowel as hulle families, woon op die plaas. Tien dae se arbeid word afgewissel met een dag se rus, wat beteken dat die uitmergelende werk wat deur ‘n gekollektiviseerde plaas vereis word, verrig word met slegs drie rusdae per maand.

Ons is na ‘n drievertrekhuisie geneem, waar ek die 12-jarige Minjae otmoet het. In sy geradbraakte Engels het hy my die een en ander oor sy lewe vertel, en hoewel die voorafgeoefende antwoorde perfek van sy tong af gerol het, was daar geen sprake van enige spontaneïteit nie. Die arme kind se senuweeagtige rondkykery, so asof iemand ‘n aantekening maak van elke woord wat hy sê, het my simpatiemeter tot in die rooi gedruk. Hy was maar ‘n bogkind, maar desnieteenstaande moes hy let op elke woord wat by sy mond uit kom.