Utah – Bryce Canyon

VSA

Die miniatuurlughawe by Bryce Canyon is tekenend van die beskeie statuur van die toeristebestemming wat dit bedien ...

Anders as talle ander nasionale parke in Utah, is Bryce Canyon relatief onbekend, grootliks as gevolg van die afgeleë ligging daarvan.

Ondanks sy naam, is Bryce Canyon eintlik glad nie 'n canyon nie. En ondanks die naam van hierdie staproete, het ek nie 'n enkele perd gesien nie.

Hoodoos, oftewel rotsvingers, het oor honderdduisende jare weens ryp- en watererodasie gestalte gekry. En vandag kom hierdie rotsvingersvoor in 'n groot aantal reuse-amfiteaters.

Dit het my sowat vyf ure geneem om 'n ses kilometer lange staproete deur die park te voltooi. In daardie tyd het ek nie een ander mens teëgekom nie.

Elke paar meter het 'n heeltemal ander panorama voor my oopgemaak. Dit was egter die stilte wat die grootste indruk op my gemaak het. 'n Stilte só oorweldigend dat ek die bloed deur my eie are kon hoor klop.

In teenstelling met baie ander toeristebestemmings, wat gewoonlik van ander toeriste krioel, was die eensaamheid wat ek by Bryce Canyon ervaar het wonderlik verfrissend. Dit het kompleet gevoel asof ek die eerste mens ooit was om hierdie natuurwonder te aanskou. Baie, baie spesiaal.

Sunset Point is die mees gewilde kolletjie in die hele park, want van daar af het jy 'n onbelemmerde uitsig oor die grootste deel van die park. Dit was nogal gerusstellend om te sien dat die wegraping inderdaad nié plaasgevind het nie, en dat daar darem nog ten minste één ander mens in die omgewing was.

Brand logo
Volg my, maar moenie my ágtervolg nie.