Beelde van Noord-Korea

Noord-Korea

Ons gidse het ons trots vertel dat die Triomfboog ‘n volle 6m hoër is as sy neef in Parys, die Arc de Triomphe. Dít maak die een in Pjongjang die grootste van sy soort ter wêreld.

Die boog is gebou op die plek waar Kim Il-sung die bevryde Koreane toegespreek het ná die beëindiging van die Japannese besetting in 1945. In die weergawe wat ons gehoor het, is die feit dat dit eintlik Sowjet-soldate was wat Pjongjang bevry het gerieflikheidshalwe weggelaat.

Die Kumsusan-Sonpaleis is die laaste rusplek van Kim Il-sung en Kim Jong-il, en die gebalsemde liggame van dié twee Noord-Koreaanse “gode” kan hier deur die publiek besigtig word. ‘n Besoek is egter 'n baie formele saak - mans moet 'n kraaghemp, das en langbroek dra, en vroue moet klerasie aanhê wat hulle skouers en knieë bedek. Geen fotografie word toegelaat nie. Voor toegang aan jou verleen sal word, moet jy deur metaalverklikkers stap, en jou skoene laat skoonmaak deur spesiaal vervaardigde stofblasers. Dit is verder ook verpligtend om drie keer voor elke Groot Leier te buig, maar teen die tyd dat ons hiér uitgekom het, was dié buigery al tweede natuur vir my.

Die Korean Reunification Monument net buite Pjongjang – ‘n toonbeeld van die versugting wat daar na Koreaanse hereniging onder die Noord-Koreane heers. Dié monument bestaan uit 70,000 granietblokke, wat die 70 miljoen Koreane wêreldwyd verteenwoordig – 20 miljoen in Noord-Korea, 40 miljoen in Suid-Korea, en 10 miljoen uitgeweke Koreane wat oor die res van die wêreld heen versprei is. In Januarie 2023 het Kim Jong-un egter opdrag gegee dat dié monument verwoes word. Volgens hom is Suid-Korea 'n "primêre vyand" en is versoening (en hereniging) nie meer moontlik nie.

Die International Friendship Exhibition - in wese maar net 'n reusagtige granietgeskenksak.

Die Monument van die Party-stigting is in 1995 opgerig om die 50ste herdenking van dié monumentale (pun? O ja!) gebeurtenis te vier. Dit reik 50 meter die hemele in - een meter vir elke jaar - en die hamer, sekel en en skryfkwas simboliseer onderskeidelik die Noord-Koreaanse arbeiders, boere en intelligentsia.

Die Revolusionêre Martelaarsbegraafplaas, geleë op 'n heuwel wat uitkyk oor Pjongjang, waar honderde bronsbeelde van Noord-Koreaanse martelaars wat in die stryd teen die “Japanese Imperialists” omgekom het, uitgestal word.

Die bekendste bronsbeeld in hierdie begraafplaas is dié van Kim Il-sung se eerste vrou, Kim Jong-suk, ook bekend as die 'Moeder van Korea'. Sy het 'n vlak van bewondering in Noord-Korea wat net deur Kim Il-sung en Kim Jong-il gedeel word. Skoolkinders en soldate besoek die Revolusionêre Martelaarsbegraafplaas om blomme te lê, en dankie te sê aan Kim Jong-suk vir haar heldhaftige anti-Japannese stryd. Die blote detail en onberispelikheid van hierdie webwerf maak dit besonder uniek, en die uitsig self van die stad Pyongyang van bo af is skouspelagtig.

Die hotel waar ons in Wonsan tuisgegaan het.

Die ingang van 'n moltreinstasie in Pjongjang.

‘n Studielokaal in die Grand People’s Study House wat vir musiekwaarderingsessies ingespan word. Ons gids het trots vertel hoe ook Westerse musiek hier aan die mense van Pyongyang bekendgestel word, en om haar punt te staaf het sy The Beatles se “Red Album” en Madonna se “True Blue” uit ‘n laai te voorskyn gebring. Ek kan nie onthou wanneer laas ek ‘n boemboks gesien het wat ‘n funksie vir “high speed dubbing” het nie!

Met daai Merc in die voorgrond sal 'n mens dink dié foto is in 1965 geneem.

New Street in Pyongyang. Dié straat spog met 'n hele rits blinknuwe geboue, wat uitsluitlik bedoel is om die land se wetenskaplikes en tegnici te huisves.

‘n Keurig versierde tonnel tussen Pyongyang en Wonsan. Let op die gehawende toestand van die “snelweg”.

Die Ullim-waterval buite Pjongjang.

Hierdie is die ingang van 'n supermark. Geen handelsmerke, geen advertensies, geen verskeidenheid, geen buitelanders.

"Jou gatvelle gaan waai" kry nuwe betekenis in Noord-Korea, met toiletpapier soos dié.

'n Bibliotekaresse van die “Grand People’s Study House” in Pjongjang. Volgens ons gids word ‘n volle 30 miljoen boeke van reg oor die wêreld in dié biblioteek gehuisves. Ons kon egter nie ons oë daarop lê nie, aangesien dit, soos wat die gebruik mos oral in die wêreld is, in stoorkamers geberg word om dit teen “ligskade” te beskerm. Langs dié dame was daar egter ‘n gat in die muur wat met ‘n vervoerband aan dié reuse-stoorkamers verbind is. Terwyl ons daar rondgestaan het, het twee Engelse boeke hulle verskyning op die vervoerband gemaak: “Exotic Gardening” deur ene Ian Cooke, en “The World of Sharks” deur Wendy Pfeffer. Ek betwyfel dit sterk of enige van dié twee outeurs al ooit naby daaraan was om vir die Nobelprys vir Literatuur te kwalifiseer, en daarom het ek ewe vroom gevra of sy dalk kan kyk of twee van my gunsteling-boeke dalk onder die 30 miljoen in hulle opgawelys tel. My entoesiasme vir George Orwell word egter nie deur die regime gedeel nie, want die behulpsame bibliotekaresse kon nie “Animal Farm” óf “1984” op haar stelsel vind nie. Surprise, surprise.

When someone yells 'STOP', I never know if it's in the name of love, if it's Hammertime, or if I should collaborate and listen.

In die Weste tref jy advertensie vir teesakkies of lewensversekering by bushaltes aan. In Noord-Korea word inwoners by bushaltes getrakteer op 'n verskeidenheid propagandistiese foto's, soos dié een van hul mees onlangse missiellansering.

In Wonsan is ons een middag na ‘n strand geneem, waar ons vir ‘n uur of wat met ons tone in die sand kon speel. Daar was drade gespan aan weerskante van dié sowat 200m-lange strand. Ons deel van die strand was verlate, maar aan die ander kant van die onderskeie grensdrade waardeur ons ingehok is, kon ons talle Noord-Koreane sien waar hulle besig was om strandspeletjies te speel. Ek het grappenderwys gevra of ons ons in die spesiale besoekersdeel van die strand bevind, maar dié suggestie is heftig deur ons gidse ontken. Hulle verduideliking was dat ons bloot na daardie spesifieke strand geneem is omdat dit die een was waar ons toerbussie met die meeste gemak sou kon rondbeweeg. Nanthini, een van my reisgenote wat Koreaans magtig is, het egter laat blyk dat hiérdie kennisgewing aangedui het dat ons wél in die “foreigner’s beach” ingehok was.

‘n Tradisionele Koreaanse maaltyd. Van bo na onder, van links na regs- rys-en-pruimedantgereg, gebakte aartappelskywe, seegras, gerasperde soutvis, tofu, ‘n gekookte eier, weet nie, gepekelde komkommer, weet nie, beesbredie, kimchee.

Kyk hoe kyk hy nou vir my. Lekker man, lekker. Dit mag dalk iets met die chroniese elektrisiteitstekorte te doen hê, maar vis word dikwels rou bedien. En nie sommer net soesji-agtige stukkies van die vis nie – die héle vis. Wanneer jy eers verby die aardigheid van ‘n visoog wat vanaf ‘n bord na jou toe staar kan kom, raak rou vis ‘n lekkerny uit die boonste rakke, en kan jy jou op die koop toe ook vir ‘n rukkie verbeel dat jy ‘n Eskimo is.

Hondbredie. Ek was aanvanklik baie nuuskierig oor dié dis - waar anders sal jy immers ooit die geleentheid om 'n proesel van só iets te kry. Uiteindelik het ek egter maar báie swaar daaraan gesluk.

Hierdie is ‘n bier. ‘n Heineken, om presies te wees. ‘n Heineken met ‘n Noord-Koreaanse etiket daarop geplak, om nou ‘n honderd persent presies te wees.

Wanneer ek ‘n nuwe land besoek skaf ek altyd ‘n aandenking aan wat ek eendag, wanneer ek groot is, op ‘n rak bo my kaggel gaan uitstal. Hierdie uiters bisarre houtbeeldjie van ‘n koei wat ‘n elektriese kitaar bespeel, is myns insiens die perfekte gedenkstuk van my besoek aan hierdie uiters bisarre land.

Brand logo
Volg my, maar moenie my ágtervolg nie.