Die tempels van Angkor – Siem Reap

Die tempels van Angkor is die nalatenskap van die Angkorse Ryk, wat tussen 800 en 1300 oor 'n groot deel van Suidoos-Asië gestrek het. Dis 'n enorme kompleks met eindelose tempels wat verspreid lê oor 'n oppervlak van 400 vierkante kilometer. Die hooftempel, en ook die juweel in die kroon, is Angkor Wat. Hierdie is die ingang tot daardie hoogs indrukwekkende struktuur.

Die Bayon Tempel, oftewel die Tempel van Gesigte. Dis in die 13de eeu laat bou deur die destydse koning van die Khmers - Jayavarman VII. Dit het 42 torings, en meer as 200 vriendelike gesigte loer vreedsaam na besoekers. Elkeen van daardie gesigte is 'n versinnebeelding van vriend Jayavarman s'n - om die alomteenwoordigheid van die koning te beklemtoon. Kyk hoe kyk hy vir my.

Dís nou hoe nuutgevonde nederigheid in 'n foto lyk. Nadat ek en Tamas ons slim gehou het deur daarop aan te dring om die tempels van Angkor per fiets te deurkruis, moes ons die aftog voor die ongenaakbare hitte blaas, en uiteindelik het my gehiirde fiets sy weg terug na die beskawing in die maag van 'n toektoek gevind!

























































