Land van die Onheilige Drie-eenheid

Noord-Korea

Die brug oor die Yalurivier by Dandong. Dié rivier is die grens tussen China en Noord-Korea. Ek het vir 'n uur en 'n half na dié brug gestaar, terwyl ek gewag het vir 'n Noord-Koreaanse doeanebeampte om 'n inspeksie van my besitting uit te voer. Binne minute nadat die trein van hier af vertrek het, was my selfoonopvangs skoonveld, en is alle kontak met die buitewêreld opgeskort. Só sou dit ook vir die res van my besoek bly. Ek sou eers nege dae later weer sien wat alles in die wêreld aangaan.

Werkers in ryslande, soos gesien uit die treinvenster onderweg na Pjongjang.

Ons baba-oppassers. Hyang Sun, links, en Gyong Sim, regs, met my Franse kamermaat, Jeremy Brevet, wat in die trein se venster weerkaats.

Oomblikke nadat my trein in Pjongjang gestop het, het Hyang Sun my onderskep, my paspoort vir "veilige bewaring" ingeneem, en my na dié bussie van die Korea International Travel Company toe begelei. Vir die res van my besoek is ek, en agt ander toeriste, in die maag van dié bussie na die mees verstommende plekke toe geneem.

'n Groen KITC-bussie vir Chinese toeriste, en 'n beige ene vir Westerse toeriste.

Onderweg na Pjongjang het die trein sy weg deur talle klein plattelandse dorpies gebaan. In elkeen van dié dorpies het daar 'n baken uitgestaan - 'n muurskildery van twee glimlaggende, bebrilde, onmiskenbaar Koreaanse omies. Dié twee is natuurlik Kim Il-sung, die eerste Groot Leier van Noord-Korea, en dié se seun, Kim Jong-il. 'n Weergawe van hierdie muurskildery word oral, maar óral in Noord-Korea aangetref.

Die reusestandbeelde van Kim Il-Sung en Kim Jong-Il op Mansu-heuwel. In die kort tyd wat ons daar spandeer het, het honderde Noord-Koreane daar uitgeslaan, en 'n diép buiging voor hierdie standbeelde gemaak. Blykbaar is dit 'n daaglikse ritueel. Of dit gedwonge is, kon ek nie uitvind nie.

Ek en die groep deurwinterde reisigers wat die unieke belewenis om Noord-Korea te besoek met my gedeel het.

Voordat ons by Mansu-heuwel arriveer het, is ons aangesê om ons kortbroeke vir langes te verruil, aangesien die vertoon van my knieknoppe 'n reusebelediging sou wees vir dié twee bronsbeslaande voormalige leiers van Noord-Korea.

Kim Il-Sungplein, waar die militêre parades wat mens gereeld op die nuus sien, plaasvind.

Blaas jou vuvuzela!

Seun, sien jy al daai mense? Hulle dink jy's 'n god, so trek bietjie jou maag in.

Dames, sê my wat jou naam is.

Die rooi, wit en blou vlag is die nasionale vlag van Noord-Korea. Die ander een is die vlag van die Koreaanse Werkersparty - die organisasie wat amptelik aan die stuur van sake in Noord-Korea staan.

Die hotel waar ons tuisgegaan het is op 'n eiland in die Taedongrivier gebou. Wanneer ons in die aande daar stilgehou het, is ons verbied om die hotel te verlaat, totdat ons dit die volgende oggend onder die wakende oog van ons gidse kon doen.

Die voorportaal van die hotel. Goeie ou Sowjet-era argitektoniese vernuf wat daar uitgestal word.

Die panoramiese uitsig oor Pyongyang vanuit my tronk ... ag, ek bedoel my hotelvenster.

Gelukkig vir my was daar nie eers 'n opsie om die 5de vloer van die hotel te besoek nie. Ek is seker Otto Warmbier wens dit was ook die geval toe hy daar tuisgegaan het.

Weens die nypende kragtekorte is die grootste deel van Pjongjang saans in donkerte gehul ... behalwe vir daardie geboue waarop die gesigte van Die Leiers afgeëts is. Natuurlik.

Brand logo
Volg my, maar moenie my ágtervolg nie.